Baie van ons was gelukkig om in ’n huis waar daar ’n musiekinstrument was, groot te word. In ons huis was ’n klavier met een kersblaker en ’n bladmusiekstaander wat aan die voorste paneel hang, en daardie klavier is dieselfde een waarop ek vandag nog speel.

My klavier is ’n Britannia Overdamper en dit kom waarskynlik uit die laat 1800’s. Daar is ongelukkig geen datum wat aandui in watter jaar dit vervaardig is nie. Die enigste aanduiding van die klavier se ouderdom is ‘n stemdatum in 1910. Alhoewel die klavier oud is, laat stem ek dit nog gereeld en die klank is vir my nog heel aanvaarbaar.

My oudste en jongste susters was beide knap pianiste. Geleidelik het hulle my begin touwys maak en op dertienjarige ouderdom het ek met formele lesse begin.

Ons was gelukkig om musiekonderwyseresse by die skool te hê. ’n Kwartaal se musieklesse het jou – voor desimalisasie – £1-7-6 (een pond sewe en ses) gekos.

Algaande het ek gevorder en het ek ook verskeie van Unisa se klaviereksamens afgelê.

My ma het altyd gesê sy kon aan my klavierspel oordeel hoe my skooldag verloop het.

Toe ek op hoërskool was, was ek die enigste kind in die huis. Die broers en susters was òf studente òf reeds gevestig in hulle beroepe. Gevolglik het die klavier maar geleidelik “myne” geword. Ek het elke dag gespeel.

Dit het soms gebeur dat my ouma, na my oupa se heengaan, vir lang rukke by ons kom bly het. Sondagnamiddae moes ek vir haar uit die ou Nederlandse Hallelujaboek speel. Op ’n dag speel ek die lied – “‘k Zie het land, waar de zon nimmer daalt…” en ek besef dis ’n wysie wat ek nog nooit as ’n Halleluja geken het nie. Dit is dieselfde wysie as die Afrikaanse volksliedjie, “Daar’s ’n Hoender wat ’n Eier nie kan lê nie”. Natuurlik gee ek dit toe ’n lekker “swing” totdat my stugge ouma my aanspreek: “Nee, kind, ’n mens speel dit nie so nie.”

Ek speel nog steeds soms op ’n Sondag uit daardie Hallelujaboek – wat reeds in 1904 gedruk is en het onlangs nog ’n wysie – “Verblijd u in Jezus, dien God aan ons gaf….” – daarin ontdek, waarvan die melodie as ’n ou Amerikaanse volkswysie geklassifiseer word – “Hallelujah, I’m a bum!”

’n Oud-kollega het altyd t.o.v. sulke musiek gesê: “Why should the devil have all the jolly melodies?”

Danie Baard